Werklik?

Sleutelwoorde

, , ,

Ons is hard besig op soek na werk vir Sonstraal vir volgende jaar. Al wat webwerf is word beloer en die CV wat keurig saamgestel is word gestuur. Toe kom die skok (vir my in elk geval)… Daar moet ‘n motiveringsbrief geskryf word, kop en skouer foto moet aangeheg word, alle dokumente – insluitend die CV wat per e-pos gestuur is moet asb na die nommer geFAKS word?! Is dit nou net ek of wat… maar is fakse nie effe ouderwets deesdae nie? Ek het 5 jaar gelede ander werk gesoek en CV weg gestuur ens. En toe moes alles per e-pos gestuur word!

Verander die hele werksoek proses werklik so vining of is ek maar net weer agter die tyd?

En nou?

Vir 20 jaar het ek hulle grootgemaak – as enkel ouer nie altyd maklik nie…

Toe Oudste klaar was met skool was dit nie so erg nie, Sonstraaltjie was nog op skool en het my besig gehou. Nou is sy oor minder as 2 weke klaar met skool – en dan?

Sy sal seker ook soos Oudste gaan werk en deur Unisa studeer (daar is nie geld vir universiteit nie). Beide bly nog in die huis, maar dis nie meer dieselfde nie.

Hulle het nou hulle eie lewe, maak hulle eie besluite… en dis reg, dit is hoe dit moet wees.

Maar hoekom voel ek deesdae so half verlore? Soos ‘n weeskind?

Herinnering

Sontraaltjie laat weet nou dat Wolraad Woltemade se liedjie speel… en onthou ek die storie? Ja my kind, dit was deel van die storieman reeks waarna julle ure lank kon luister… Sy onthou dit ook.

En skielik is ek hartseer oor hulle so gou groot word maar tog ook dankbaar dat deur die hele gemors wat my lewe tot dusver was, dat daar tog stukkies goed was en dat hulle tog ‘n goeie herinnering of twee saam met hulle kan neem die toekoms in…

Is ons?

Is ons?

Ons is veronderstel om in hierdie ‘verhouding’ te wees. Ons probeer weer – vir die hoeveelste keer?

En tog…

Het ek nie die vrymoedigheid om vir jou te sê hoe ek voel nie. Ek kan nie my hartseer, vrese of vreugdes met jou deel nie, ek kan nie voor jou huil nie.

Hoekom nie, vra jy? Dalk omdat dit in die verlede afgemaak is as snert? Nie belangrik nie? Nie my probleem nie? Met ‘weer probeer’ is mens veronderstel om die seerkry van die verlede te vergeet en voor te gee dat dit nie gebeur het nie of leef mens in hoop dat dit nie weer sal gebeur nie?

Jy kyk vas in my masker, my masker wat ek nie voor jou kan/wil afhaal nie want ek is bang vir weer seerkry.

Nou wonder ek net… is ons regtig in hierdie ‘verhouding’?

9 lives…

…and I had to choose this one!

Kan een mens soveel ‘issues’ hê om uit te sorteer? En meeste van dit nie eers jou eie nie.

Pa wat wil aftree die einde van die jaar. Dis seker verstaanbaar, hy is 73 en wil nie meer werk nie. Net jammer hy het nie voorsiening gemaak vir aftrede nie en kan dit nie regtig bekostig nie. En aangesien kleinsus ‘n gas van die staat is en ander sus oorsee bly is dit my probleem. My probleem om ‘n bekostigbare begroting uit te werk, te kanselleer wat nie absoluut noodsaaklik is nie, te reël dat die bietjie geld wat hy het so belê word dat hy darem maandeliks ‘n inkomstetjie het. Seker te maak dat die bakkie wat hy vir kleinsus se eks gekoop het van sy naam afkom en dat die ^%$#%$# dit op sy naam kry. Die versekering wat ook van pa se naam af moet kom.

Kleinsus se seun – en oupa se enigste kleinseun – se studielening wat ook van oupa se naam moet afkom sodat kleinseun self kan terugbetaal.

En dit alles moet gebeur voordat oupa Desember maand Australia toe gaan vir 3 maande – op sus se onkoste om vir haar te gaan kuier.

Kleinsus wat volgende jaar parool kry – blyplek moet hê, werk moet kry anders gaan daar verwag word dat oupa moet sorg soos wat hy al die afgelope 5 jaar doen. En seker maar omdat hy pa is sal hy nie nee sê nie en dan is sy laaste geldjies daarmee heen en wie moet dan vir hom sorg? Gelukkig het neef aangebied om te help met blyplek maar neef het onlangs sy werk verloor…

Dan het sy die vermetelheid om my te bel en te vra hoekom ek nie kom kuier nie? 90% van die goed wat ek moet uitsorteer is as gevolg van haar dade. Het sy gesien hoe my pa oornag oud geword het as gevolg van haar? Nee wat, is beter dat ek haar liewer nie sien nie.

Sontraaltjie maak die jaar (een van die dae) klaar met skool. Sy wil nie volgende jaar gaan studeer nie want sy is nie seker wat sy wil doen nie. So daar moet werk gesoek word…

Vriend wat nie kan verstaan hoekom al die goed my probleem is nie. Hoekom kan hulle dit nie self uit sorteer nie? Ek gaan nie eers probeer verduidelik nie…

En dan die nuus dat daar weereens die jaar geen bonusse of verhoging by die werk sal wees nie. Die afgelope 5 jaar wat ek al hier werk was daar die eerste 3 jaar geen verhogings/bonusse. Daarna 3% verhoging, die jaar daarna 6% en nou weer niks… ‘you do the math…’

Geen wonder ek voel absoluut oorweldig nie. Ek wil net die pad vat en die vlaktes invaar! If only… 

Radeloos

So kan dit seker ook nie aangaan nie… Tommiekat is al radeloos met sy ma!

Daar is hoeveel dokumente met onsamehangende gedagtes en woorde in my vouer maar niks wat geskik is vir ander mense se oë nie…

Depressie… weereens… terug op medikasie maar dis asof dit die keer nie wil help nie. Hierdie swaar, swart donkerte bly hier binne my. Ten minste voel ek niks en die trane het opgedroog – ek kan nie meer huil nie.

Al wat nog pla is die hoekom maar dit sal seker nooit beantwoord word nie.

Elke dag die stryd om net deur die dag te kom, so af en toe ‘n glinstering van lig wat deurskemer – net om weer deur ander se onkunde en wrede woorde weg geneem te word.

Vader sal dit ooit ophou? 

Foto

Tommie-kat

Tommie-kat

My Tommie kat.
Hy is deel van my lewe van sy geboorte af en hy is my harts-kat. Hy is die een wat weet as die seer hier binne te erg raak en die trane die kussing natmaak en van die slapelose nagte. Dis dan wanneer hy styf teen my kom lê, kop op die kussing langs myne en sy motortjie ‘start’ en aan die gang hou tot ek rustig slaap…

Oumie

Ek mis jou vandag vreeslik baie, seker maar omdat dit jou verjaardag is. Maar ek gun jou jou rus! Na al die kinders wat jy moes grootmaak verdien jy dit. Eers jou eie agt en later van tyd drie van my neefs en toe ons drie. Dit kon nie vir jou maklik gewees het op jou ouderdom om skielik weer klein kinders in die huis te hê nie. Dalk het ons jou jonk gehou? 🙂

Daar is omtrent nie ‘n dag wat verbygaan wat ek nie aan jou dink nie, wat ek nie iets mis nie. Daar is soveel dae wat ek die foon wil optel om te bel of om net gou te stop vir koffie. Dit was altyd so lekker om saam met jou in die kombuis te sit en jou moerkoffie te drink en die heerlike anysbeskuit daarby. Meestal wil ek vir jou om verskoning vra oor al die onhebbelikhede wat ons aangevang het en om vir jou te sê ek is lief vir jou. 😉

Toe ek na tien jaar in die Kaap weer terug gekom het ‘huis’ toe, toe ken jy my amper nie meer nie al het ons gereeld geskryf en fotos gestuur. Ek het nou nog van jou briewe. Dit het my hart gebreek om jou so te sien, oud en afhanklik van ander mense (jy was darem al oor die 90), al was dit ook jou kinders en kleinkinders. Jy was altyd so onafhanklik…

Ek mis vandag jou sagte ronde lyfie wat altyd troos kon bied, jou lag uit jou maag uit wat mens altyd beter laat voel het, jou stem wat altyd raad gehad het.

Ek hoop jy verjaar lekker Oumie, waar ook al jy is.

Jou verlangende kleindogter

Liesbet (jou naam vir my, onthou jy Oumie?)

Ma (2)

Dis nou byna 2 maande dat ek by jou gekuier het en ek probeer nog steeds om al die inligting en emosies uit te sorteer en te verwerk en te besluit wat ek daarmee moet maak.

Ek is bly dat ons die tydjie saam gehad het, dat ons kon gesels, ek is ook hartseer oor die jare wat vermors is as gevolg van leuens en hardkoppigheid. Ek wens dat jy nader was sodat ek jou meer gereeld kon besoek, sodat jy deel van my en jou kleinkinders se lewe kon wees, sodat ek daar kan wees vir jou as jy iemand nodig het.

My grootste geskenk van die week saam met jou is seker die wete dat jy my nie weggegooi het nie en en dat ek nou verstaan wat gebeur het. Soms is dit moeilik om die kennis te vereenselwig met die ou man wat my pa is maar as ek dink hoe hy was toe hy jonger was dan maak dit tog sin. Dat sy keuses en besluite ons almal se lewens so drasties beinvloed het is moeilik om te aanvaar, om nie kwaad en bitter te wees nie, nog moeiliker. Dit dien tog geen doel nie.

Dit was goed om jou in jou omgewing te sien, jy woon al soveel jare op daardie klein dorpie en almal ken jou 🙂 Dit wat ek gedink het ek weet van jou is omgekeer. Jy is nie die harde genadelose mens wat ek geglo het jy is nie. Ek was verbaas om agter te kom dat jy eintlik maar ‘n klein hartjie het al probeer jy hoe hard om hierdie masker van ongeërgdheid voor te hou. Die bedelaar op die hoek ken jou naam want jy stop om ‘n geselsie aan te knoop, jou plaaswerkers van baie jare gelede kom op ‘n Saterdag oggend om te kom hoor hoe dit gaan, die kelnerin by die koffiewinkel wat se gesig ophelder as sy jou sien want jy vra na die kinders, al is hulle groot, dit alles het vir my soveel meer van jou vertel as wat woorde kon doen.

Die week nadat ek daar was het jy siek geword en jy moes hospitaal toe, jy moes op ander mense staatmaak om jou daar te kry, om na jou te kyk. Ek is jammer ek kon nie daar wees nie maar ek is bly dat jy in ‘n gemeenskap bly wat jou ken en vir jou omgee.

Die deel van testamente en papiere was minder aangenaam, dit dwing die realiteit op die voorgrond, maar dit is wat jy wou gehad het en as dit jou gemoedsrus gee dan is dit goed.

Ek hoop dat die kuier vir Ma ook goed was, dat ma kon sien dat daar geen meer kwaad en verwyt is nie (net hartseer oor vermorste jare) en ek hoop dat dit bietjie vrede bring.

Vir die eerste keer in baie jare kan ek met ‘n glimlag sê: Lief vir ma.

Selfstandigheid

Ek is ‘n volwasse, enkel, selfstandige vrou. En ek is meeste van die tyd OK met dit. Maar daar is tye, soos vanaand, wat dit my regtig onderkry.

Ek het met die jare geleer om meeste dinge self reg te maak en uit te sorteer. Daar is nie iemand wat help nie. Van sekere dinge weet ek nie veel nie en een daarvan is vervoermiddels.

Vanaand toe ek vir Sonstraaltjie by die skool moes gaan haal het haar motorfietsie sonder petrol gaan staan. Ons gaan kry petrol en gooi dit in en die dingetjie wil nog steeds nie vat nie. Daar staan ons voor die skool, 9.30 in die aand met ‘n fietsie wat nie aan die gang wil kom nie en niemand om te kom help nie. Gelukkig het daar van die skoolseuns verby gekom en gehelp.

Op pad huis toe het die damwal gebreek – die damwal wat die selfbejammering, trane en kwaad in toom moet hou. En dis tye soos dan wat ek wil weet – hoekom? Hoekom moet ek alleen sukkel? Hoekom is daar nie ‘n pa wat kan en wil help nie?

Ek is moeg om alleen te moet regkom, alleen al die veratnwoordlikehid te moet dra. Soms raak dit net te veel…

Vannag sal die dam leegloop en moreoggend sal die masker weer stewig in plek wees en die lewe sal voortgaan, soos altyd.